Lank gelede, nege jaar terug, het ’n eenvoudige Facebook-boodskap die begin geword van ’n liefde wat stilweg gegroei het tot iets groter as wat ons ooit kon droom. Twee harte het mekaar gevind, en saam het ’n storie begin - een van groei, vertroue, lag en onvoorwaardelike liefde.
Saam het ons ons volwasseneslewe begin bou — mekaar se drome leer ken, mekaar se passies verstaan en stadig maar seker ons beste weergawes ontdek; Luan het ’n man geword vol krag en sagtheid, opreg en respekvol, beskermend en diep omgee, iemand vir wie geen probleem ooit te groot is nie, en wat altyd die mense wat hy liefhet bo homself plaas - ’n stil pilaar van veiligheid en rustigheid; en Renzke het haarself gevind - haar mooi hart het gegroei in empatie, sagtheid en liefde, ’n liefde wat sy vandag makliker vir ander gee as vir haarself; by Luan het sy geleer wat ware liefde regtig beteken: rustigheid en vrede, maar ook die opwinding van die lewe — sy het geleer om haarself te wees, en toe sy dit begin doen het, het alles anders net in plek begin val, en dis toe sy geweet het: Luan aanvaar haar presies soos sy is - en saam het ons ’n liefde gevind wat elke dag net dieper en sterker word.
Ons is nie net geliefdes nie, maar ook mekaar se beste vriende. Ons lag saam, huil saam, kuier saam en vat die lewe hand aan hand aan, want sonder mekaar het ons besef is daar altyd ’n leemte.
Op 29 Desember 2024, het een van Renzke se grootste drome waar geword. In die middel van die bos, op ’n eenvoudige klip langs die rivier in Dinokeng - terwyl sy
nog heeltemal onskuldig gedink het sy soek seekoeie langs die rivier - het Luan haar verras en haar gevra om met hom te trou. ’n Oomblik so eenvoudig, so onverwags, en tog so ongelooflik perfek.
Twee siele. Een hart.
Een storie.
Een lewe saam.
En met dankbaarheid in ons harte en hoop in ons oë, stap ons nou vorentoe - hand aan hand
- want die mooiste deel van ons storie lê nog voor.